Ses jaar gelede het ‘n vyfjarige, amper onmoontlike stout seuntjie met baie aggressie in sy ou lyfie by Huis Betlehem aangekom. Hy was baie verward en verwese nadat hy vir die soveelste keer weggeruk was vanuit ‘n huis waarin hy geplaas was. Van sy biologiese ouers was daar nie eers meer sprake nie, vir hulle was hy al lankal vergete.
Huis Betlehem was toe reeds die vyfde huis waarin hy geplaas word en hier was aan sy fisiese behoeftes voldoen, maar hy het meer nodig gehad. Sy enigste manier om te smeek vir ‘n bietjie liefde en aandag was om sy maatjies by die kleuterskool af te knou en elke opdrag van ‘n juffrou af te maak as iets wat hy moes uitdaag. Vanweë sy afkeurende gedrag was hy moeilik aanpasbaar by ‘n gesin.
In dieselfde tydperk was daar toe ‘n ouerpaar wat al desperaat was vir ‘n kindjie en al hul geld kon nie dié behoefte bewerkstellig nie. So wend hulle hul toe na maatskaplike dienste vir ‘n moontlike aanneming. Die maatskaplike werker besef dat behalwe vir die finansiële versorging sal die ouerpaar ook bereid en instaat wees om met die seuntjie ‘n lang pad na herstel te kan loop.
Dit was letterlik baba treë wat die gesin saam met die klein seuntjie begin stap het. Hulself het deur verskeie opleidingsessies gegaan, hy is ge-evalueer en met die regte berading, terapie, medikasie en hope liefde begin die seuntjie toe al hoe meer sy potensiaal bereik.
Nou na ‘n verdere 7 jaar is hy suksesvol deur die ouerpaar aangeneem en is hy ‘n goed opgevoede seun met mooi maniere en ook ‘n uitblinker op skool op akademiese, sport- en kulturele gebied. Hulle eie lewensuitkyk, opregte liefde, geleenthede vir afrigting, geloof in hom en sekuriteit het vir hom die baan geweg na ‘n pragtige kind. Hy het steeds so effense stoute streep in hom, wat sy maats op hul tone moet hou soos hy hulle treiter met sy skerp humorsin. Verder het hy altyd ‘n grappie gereed en is sommer gewild onder sy maats. Hy kan maar dopgehou word, want oor ‘n paar jaar gaan hy verseker ‘n sukses van sy loopbaan maak…
Die ideaal sal wees dat elke kind wat by Huis Betlehem geplaas word die geleentheid kan kry om sy volle potensiaal te kan bereik, want elke kindjie word gebore met talente en die behoefte na versorging, maar ons as volwassenes het ‘n verpligting teenoor die kinders om hulle te versorg, op te voed en hul talente te ontgin.